Hoërskool Middelburg Identiteit

Skoolwapen

Die skoolwapen is ontwerp deur oud-skoolhoof mnr PJ du Toit gedurende 1924. Mnr Du Toit was skoolhoof vanaf Julie 1922 tot en met Desember 1948.

Ons Slagspreuk

“MIDDIES – DIÉ SKOOL VIR GELEENTHEDE”

Ons Leuse

“Karakter & Kennis “

Simboliek van die wapen

• Opgaande Son simboliseer die Jeug en die Lig waarna ons moet strewe.
• Opdraande Kronkelpad simboliseer dat die Lewe inspanning en arbeid vereis.
• Die Lourierkrans is die simbool van sukses en vrede waarna ons hunker.
• Karakter en Kennis is die geestelike toerusting vir sukses in die stryd.

Skoollied

Dis die ou Karoo vlak vaal of groen of grou
Wat ons almal liefhet en in eer sal hou
Ons wil reinheid, eenvoud, vryheid van hom leer
Vryheid, eenvoud reinheid deur ons dade eer.

Beur vooruit Karoospan speel en spook en stoei
Rats en wakker saamstaan altyd onvermoeid
Wees nie bang vir swaarkry swig nie vir ‘n slag
Daar’s die doelwit voor jou beur met al jou mag.

Net maar een Karooskool wat ons trots laat groei
Ons wil ywerig arbeid dat hy steeds mag bloei
Dis Karakter Kennis wat ons leuse bly
Plig en deug ideale waar ons voor sal stry.

Erekode

Ons sal ten alle tye:
“Mekaar, ons ouers en elke lid van ons gemeenskap met respek en eerbied behandel.
Lojaal teenoor mekaar en ons skool wees.
Eerlik, openhartig en opreg wees in al ons optredes.
Ons verpligtinge en verantwoordelikhede teenoor mekaar,
Ons ouers, ons skool en ons gemeenskap nakom.
Ons skool, ouers, gemeenskap en mekaar se eiendom beskerm soos ons eie.
Daarna nastreef om alles wat ons doen, na die beste van ons
vermoë te doen, deur geloof, kennis, en daadkrag.
Daarna streef om vir ons skool geleenthede te skep om
die kwaliteit van lewe in ons gemeenskap te verbeter.
Christelike gehoorsaamheid betoon aan die owerhede oor ons gestel.
Onwrikbaar ons geloof in en afhanklikheid van God-Drie-Enig
Uitgedra deur woord en daad.”

Missie

(Belangrike Opdrag)

1.  Wetlike en morele voorneme.

  • Om leerlinge van ons plaaslike multikulturele gemeenskap te onderrig en te ontwikkel binne die raamwerk soos uiteengesit in die Suid-Afrikaanse Konstitusie.

2.  Doel:

  • Om te belê in menslike kapitaal deur onderwys, opleiding en vaardigheids-ontwikkeling;
  • Om deur middel van onderwysmodelle ‘n bylae te lewer tot die ontwikkeling van onderwys in die algemeen; en
  • Om alles moontlik te doen ten einde die kwaliteit van lewe in ons platteland (Middelburg) te verseker.

Visie

(siening – innerlike aanskouing)
By Hoërskool Middelburg strewe ons om die kind in sy totale potensiaal te ontwikkel gebaseer op Christelike waardes en norme en leer ons kinders om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul talente en regte.

By Hoërskool Middelburg word kinders begelei deur kwaliteit-onderrig en ‘n goeie georganiseerde milieu tot afgeronde persone.

Om bogenoemde doelwitte te bereik beskik ons oor die volgende:

  • Entoesiastiese, goed gekwalifiseerde opvoeders;
  • Effektiewe hulpmiddels in die klaskamer;
  • Bruikbare sporttoerusting en – fasiliteite; en
  • ‘n betrokke ouer gemeenskap wat as vennoot ‘n integrale rol speel as deel van die opvoedingspan.