Hoërskool Middelburg Skoolreëls
Algemeen
- Leerders moet betyds by die skool wees, nl. 7:15.
- Sodra die klok lui, moet alle speletjies onmiddellik gestaak word en vinnig na die aantree-area gestap word.
- Geen leerder mag die skool sonder die hoof se toestemming verlaat nie.
- Geen leerder mag voor, na skool of gedurende pouses sonder toestemming van ‘n onderwyser in die skoolgebou wees nie.
- Geen leerder mag tydens pouses of gedurende klaswisseling op stoepe rondhardloop nie.
- Geen spelery word in die kleedkamers toegelaat nie.
- Enige vorm van kougom is ontoelaatbaar.
- Skoolbanke mag nie bekrap word nie.
- Enige beskadiging van skooleiendom, sporttoerusting, handboeke en geskrifte,sal deur die leerder vergoed word.
- Netjiese oorgetrekte boeke moet in ‘n stewige boeksak gedra word.
- Slagspreuke en plakkers op tasse word verbied.
- Alle skoolklere, tasse en persoonlike eiendom moet duidelik gemerk wees.
- Leerders moet te alle tye beleefd optree.
- Wanneer besoekers die skool besoek, moet leerders opstaan en die mense vriendelik groet en hulle behulpsaam wees.
- Ouers word versoek om nie gedurende klastyd onderwysers te besoek nie.
- Meld altyd eers by die sekretaresse aan.
- Geen speelgoed, I-Pod’s/MP-3’s/selfone of enige ander tegnologiese apparaat word toegelaat nie. Indien laasgenoemde by ‘n leerders gevind word, sal daar daarop beslag gelê word, erkenning van ontvangs aan die leerder uitgereik word en kan dit deur die ouer op ‘n Vrydag tydens die laaste periode afgehaal word by die kantoor.
- Geen vuurwapens, messe of enige ander gevaarlike wapens, klappers of ander skadelike middels soos dwelms, alkoholiese drank, sigarette, ens. mag op die skoolterrein gebring word of in besit van ‘n leerder wees nie.
- Leerders mag slegs goedgekeurde skooldrag gedurende skooltyd dra.
Terrein
- Hou die terrein te alle tye netjies – geen vullis mag rondgegooi word nie.
- Leerders mag nie in die bome op die terrein of enige kontruksie of dakke klim nie.
- Geen bome, struike en ander plante mag beskadig word nie.
- Geen leerder mag die terrein gedurende skoolure sonder die nodige toestemming van die skoolhoof verlaat nie.
- Die hoofingang tot die skoolgebou is slegs vir gebruik deur die onderwyspersoneel en besoekers.
- Graad 8-leerders moet gedurende oriëntering agter die skoolgebou beweeg.
- Alle leerders wat pouses bal speel of hardloop, moet dit pouses agter die skool doen.
- Geen leerder mag met sy/haar hande in die sakke loop of staan nie.
- Die koshuisterrein val buite die skoolterrein. Leerders mag dit nie tydens pouses betree nie.
- Geen leerder mag tydens pouses by die busstoor, skietbaan of pawiljoen wees nie.
- Leerders mag NIE met voertuie (motors, motorfietse en bakkies) die skoolterrein of die koshuisterrein betree of parkeer NIE.
In die skoolgebou
- Leerders moet verkieslik ‘n boeketas met stewige wande en vakkies gebruik, anders verniel die handboeke. Slegs ‘n leerder se naam mag op die tas geskryf word. Tasse moet gedurende pouses buite by die aantree-area geplaas word en nie op die stoepe of in die klaskamers gelaat word nie.
- Handboeke moet te alle tye oorgetrek en netjies gehou word.
- Indien ‘n leerder by die skool siek word, mag hy/sy nie huis toe gaan sonder die toestemming van die skoolhoof nie. Die ouer moet verkieslik gekontak word om die siek leerder by die skool te kry.
- Wanneer die skoolklok aan die begin van die dag of na pouses lui, moet die leerders onmiddellik aantree en stilte moet gehandhaaf word.
- Niemand mag gedurende pouses of voor skool in die klaskamers of vierkante wees nie, tensy toestemming daartoe verleen is of as dit reën.
- By wisseling van klasse mag leerders nie oor die vierkant loop nie, maar moet in rye op die stoepe stap. Daar mag nie op die stoepe gestamp of gehardloop word nie.
- As daar weens die een of ander rede nie ‘n onderwyser in ‘n klaskamer teenwoordig is nie, moet die leerlinge die klas binnegaan en stilte handhaaf.
- Kennisgewingborde moet netjies gehou word.
- Oneerlikheid en afskrywery word nie toegelaat nie. Indien ‘n leerder gedurende ‘n toets of eksamen van oneerlikheid aangekla word, sal daar streng opgetree word. Tydens die eksamen word daar streng gehou by die eksamenprosedure. Eksaminering word slegs volgens die vasgestelde eksamenrooster en tye afgeneem. Daar kan NIE uitsonderings gemaak word
- Tuiswerk moet daagliks gedoen word. Verskonings soos”boek by die huis vergeet”, word as ‘n oortreding beskou en hanteer.
- Geen leerder mag die skoolgebou betree nadat dit toegesluit is nie.
In die gemeenskap
- Indien ‘n leerder in skooldrag op straat verskyn, moet die volle skooldrag gedra word.
- Geen leerder mag in die snoekerkamers en/of in die sitkamers van ‘n hotel of klub aangetref word nie, tensy vergesel van sy/haar ouers.
- Leerders moet te alle tye onthou dat hulle as verteenwoordigers van die skool in die gemeenskap moet optree. Negatiewe optrede skaad die beeld van die skool.
Klasreëls
- Leerders tree netjies buite die betrokke klasse in rye aan. Leerders sal stilte handhaaf tydens die aantree voor klasse.
- Dogters loop eerste by klasse in en uit.
- Leerder staan by sy/haar bank totdat die onderwyser die leerders toestemming gee om te gaan sit.
- Daar mag nie in die klaskamer geëet word nie, selfs ook nie kougom gekou word nie.
- Respekteer mekaar en die onderwyser(es).
- Slegs een persoon praat op ‘n slag.
- Wees betyds.
- Daar mag nie geleen word nie.
- Mag nie opstaan sonder toestemming nie.
Gedrag buite die skoolgrond
Die skooluniform is net so deel van die skool as die skoolgrond self. Dit is soos die handelsmerk van ‘n maatskappy wat ‘n eie unieke karakter dra. Uit hoofde daarvan is die draer daarvan ‘n verteenwoordiger van die skool. Indien ‘n leerder ‘n oortreding buite die skoolgrond in skooldrag begin, geld stappe en tugmaatreëls wat binne die skool geld.
Siek Leerders
- Dit bly die taak van die ouer(s) om die skool in kennis te stel indien ‘n leerder siek is.
- Na afwesigheid weens siekte, moet ‘n afwesigheidsbrief (onderteken deur die ouer) of ‘n doktersbrief ingeval ‘n toets of eksamen gemis is, aan die skool gestuur word.
- Indien ‘n leerder by die skool siek word, skakel die sekretaresse die betrokke ouer(s) om hom/haar by die skool te kom haal.
Hare – Dogters
- Enige “nuwerwetse” of “afwykende” haarstyle moet vooraf aan die personeel voorgelê word vir goedkeuring.
- Hare moet altyd skoon en netjies wees.
- Hare langer as die kraag moet netjies vasgebind word met ‘n rekkie.
- Los haarslierte moet met haarknippies vasgesteek word.
- Vals haarstukke moet dieselfde kleur as die natuurlike hare wees. Dit moet na agter gevleg en met ‘n rekkie vasgemaak wees.
- Die kuif mag nie aan die wenkbroue raak nie.
- Hare mag nie gebleik of gekleur word nie, m.a.w. geen kleursjampoe, kleurmousse, tinte, permanente kleur of sonstrepe word toegelaat nie.
- Na ‘n vakansie moet die hare aan bogenoemde vereistes voldoen en geen grasie sal verleen word nie.
- Slegs bottelgroen, bruin en swart rekkies mag gedra word.
- Gewone haarknippies in blink, groen en bruin is toelaatbaar. Linte moet bottelgroen of swart wees.
- Indien hare permanent gegolf is, moet dit netjies vertoon en pas by die skooldrag.
- Kopluise is hoogs oordraagbaar en ‘n leerder wat daarmee besmet is, moet tuis bly tot die problem opgelos is.
Hare – Seuns
- Hare moet kort, skoon en netjies wees.
- Hare mag nie gekleur word nie, m.a.w. geen kleursjampoe, kleurmousse, tinte, permanente kleur of sonstrepe word toegelaat nie.
- Geen uitspattige hairstyle en gekleurde hare word toegelaat nie.
- Geen “steps”word toegelaat nie.
- Kuiwe mag nie aan die wenkbroue raak nie (2cm bokant wenkbrou).
- Baard en snor moet elke dag geskeer wees.
- Hare mag nie aan die ore raak nie.
- Paadjies en patrone mag nie ingesny word nie.
- Afro-style mag nie langer as 1.5cm wees nie.
- Wenkbroue mag nie geskeer word nie.
Juwele
- Die dra van hangertjies, armbande en ringe is nie toelaatbaar nie (slegs in die geval van mediese redes).
- Geen armband of kettings word om die nek toegelaat nie. Beslag sal daarop gelê word.
- Slegs een dun ringetjie of klein goue of silwer knoppie word vir dogters, in die onderste gaatjie van elke oor toegelaat. Geen versierings in “stud”of ringetjie nie. Geen juwele vir seuns nie.
- Geen tongringe, naeltjiering en toonringe mag gedra word nie.
- Slegs groen en swart bandjies met “Middies” op mag gedra word.